THOM POTGIETER-BEKER VIR SPORTVROU VAN DIE JAAR (SPANSPORT)
- Leandri Smart, Jamé Phillips en Zounica van der Merwe
![]() |
![]() |
![]() |
Al drie hierdie leerders is in WP-toutrekspanne opgeneem wat in Maart aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap deelgeneem het. Daarna is hulle in die o.23 Disa-span opgeneem en het Suid-Afrika tydens die Wêreldkampioenskap verteenwoordig.
Hulle het nie net met ʼn verskeidenheid medaljes teruggekom nie, maar spog ook na dese met hul Protea-kleure in toutrek.
TONIE POTGIETER-BEKER VIR SPORTMAN VAN DIE JAAR (SPANSPORT) - Elandré Kemp
Elandré is verkies tot die Suid Afrikaanse Toutrekfederasie se Gazelle-span (die Suid-Afrikaanse B-span) om Suid-Afrika in die o.23-span te verteenwoordig. Hiervoor verdien hy sy SA Toutrekfederasie-kleure.
HECTIC BILTONG-TROFEE VIR SPORTVROU VD JAAR (INDIVIDUELE SPORT) - Marli Botha
Marli ontvang hierdie trofee vir haar pragtige prestasie in hamergooi. Sy was vierde in haar ouderdomsgroep by die SA Skole-kampioenskap.
MORKELBEKER VIR SPORTMAN VAN DIE JAAR (INDIVIDUELE SPORT) - Adriaan Kennedy
Adriaan is ʼn passievolle atleet en het vanjaar by die ASA Jeug- en Junior Kampioenskap ʼn goue medalje in die 4x400 m-aflos behaal.
STER-TOEKENNING VIR BESTE PRESTASIE IN BUITESPORT - Alexander Smit
Alexander het ʼn groot liefde vir sport in baie vorme. Hy was vanjaar die Suid-Afrikaanse o.15-kampioen by die Nasionale Vyfkamp-kampioenskap. Dit het pistoolskiet, skerm, swem, perdespring en veldloop ingesluit.
DU TOIT-BEKER VIR VEELSYDIGHEID OP SPORTGEBIED: MEISIES - Leandri Smart
Sy speel vanjaar reeds vir haar derde jaar in die eerste dogtershokkiespan. Sy is verkies as kaptein van die span, waar sy haarself ook as iemand met baie goeie leierseienskappe bewys het.
In atletiek was Leandri sedert haar graad 8-jaar nog elke jaar ʼn staatmaker wanneer dit by die worpe-items kom.
Sy het die hoogste sport bereik toe sy vanjaar vir die SA Senior Toutrekspan gekies is, as kaptein aangewys is en aan die Wêreld Toutrekkampioenskap in Kampsbaai deelgeneem het, waar hulle verskeie medaljes verwerf het.
Leandri was altyd ʼn ambassadeur vir ons skool, op en af van die sportveld. Met haar stil geaardheid het sy diep spore in elke medespeler se hart getrap.
JOHN JENNINGS-BEKER VIR VEELSYDIGHEID OP SPORTGEBIED: SEUNS - Wiehann Meyer
Wiehann het hom as ʼn besonder veelsydige sportman bewys. Hy is sedert 2014, toe hy in gr. 8 was, ʼn staatmaker in die skool se eerste krieketspan en het op ʼn jong ouderdom sy stempel as middelkolwer en snelbouler afgedruk. Vanjaar het hy briljante tellings as kolwer aangeteken en sy pragtige, vloeiende boulaksie sal onthou word.
Wiehann is ook ʼn veelsydige rugbyspeler en was vanjaar lid van die o.18B-span.
Indien hy die tyd kon vind om hom ook op atletiek toe te spits, sou hy ook op daardie gebied die hoogste sport kon bereik. As spiesgooier het hy jaar na jaar sy vaardigheid by die interskole-atletiekbyeenkoms getoon.
Die selfvertroue waarmee hy sy sport beoefen het, sal ons lank bybly asook sy mentorskap vir jonger spelers en sy onselfsugtige sportmangees.
Die Hoërskool Strand hou sy vordering op sportgebied met belangstelling dop.