Hartlike welkom aan al ons Belgiese vriende
Dis ongeveer ‘n jaar gelede wat ons gehoor het ons is deel van die uitruilskema na België. Van daardie oomblik af was daar geen keer aan al die opgewondenheid en entoesiasme van leerders, onderwysers en ouers nie. Almal het begin beplan en fondse ingesamel om hierdie geleentheid ten volle te benut en dit een van die onvergeetlikste ervarings van ons lewens te maak.
In September/Oktober het ons julle in Roeselare besoek en ons het van die oomblik wat ons in Lille deur julle ontvang is, baie spesiaal gevoel. Ons is letterlik van daardie oomblik af hartlik ontvang en bederf deur al die Belgiese gasheergesinne - hetsy dit ouers of onderwysers was. Elke dag was gelaai met pret,plesier en leersame aktiwiteite en besoeke. Dit was met groot hartseer en ‘n gemis wat ons afskeid geneem het van ons Belgiese vriende, maar ons het darem die troos gehad dat ons julle binnekort weer in Suid-Afrika sal sien en ontvang.
Wel ‘n mens kan nie glo die tyd het so gevlieg en die tyd het aangebreek dat ons ons Belgiese vriende kan ontvang en ‘n bietjie laat deel in die gasvryheid van ons trotse Suid-Afrikaanse gesinne. Dis vir elkeen van ons voorwaar ‘n voorreg om julle te ontvang en te bederf soos wat julle vir ons in België bederf het. Ons hoop julle geniet al die nuwe ervaringe vreeslik baie.
Ons glo en vertrou dat as julle na 2 weke vertrek, julle elkeen sal ervaar hoe ons gevoel het om jul land te verlaat . Onthou die doel van die uitruilskema wat hierdie jaar al 16 jaar aan die gang is, is om vriendskappe te smee en meer te leer van ander lande se kulture, kosse en gewoontes.Ons hoop julle geniet elke oomblik van die program en geniet Suid-Afrika en sy vriendelike mense!
Groete.
Lynette, Tobie, leerders en gastegesinne
Kliek HIER vir meer inligting.